Skakel Verwarring Uit Oor Wysigings Tot Twee Wetgewings – En Pasop Vir “Tydelike” Beloftes

Daar is tans verwarring oor twee afsonderlike wetgewings en hoe om besware aan te teken.

  1. Rampbestuurwetgewing met voorgestelde wysigings (spertyd teen 1 April – 17h00), en dan is daar ook
  2. Gesondheidswetgewing met voorgestelde wysigings (spertyd teen 15 April).

Hierdie is twee afsonderlike wetgewings waarvoor twee afsonderlike voorleggings van besware aangeteken moet word. Besware wat aangeteken word teen die Gesondheidswetgewing tel nie as ‘n beswaar teen die Rambestuurwetgewing nie.

Die Rampbestuurwetgewing is nie tans op die DearSA platform nie. Besware (soos die een deur PANDA) teen die Rambestuurwetgewing kan tans slegs op twee maniere aangeteken word, voor 1 April om 17h00:

Vul hierdie vorm in, of stuur ‘n e-pos na: regulations@cogta.gov.za

Besware teen die Gesondheidswetgewing kan wel hier op die DearSA platform aangeteken word (voor 15 April).

Wat egter onstellend is, is dat mense moontlik kan dink dat die gewysigde rampbestuurwetgewing nie so ernstig of belangrik is nie, aangesien dit net “tydelik” is. Waar het ons daardie woord “tydelik” al gehoor? Was dit nie twee jaar gelede nie? Dit is asof almal heeltemal vergeet het hoe kamstig “tydelike” reëls twee jaar gelede in werking gekom het en hoe die “tydelike” reëls nou nogsteeds in werking is. Is ons rêrig so naïef om weer vir dieselfde leuen te val?

Klaarblyklik is dit dan vir sommiges nie so erg dat groter gemeentes onder die “tydelike” rampbestuurwetgewing nie byeenkomste kan hou sonder dat lidmate inentingssertifikate wys of waar gesonde mense elke week ‘n PCR toets moet kry nie. Natuurlik kan hierdie wysigings weer verder aangepas word onder ‘n ander inperkingsvlak waar kleiner gemeentes dan ook inentingssertifikate of PCR toetse vir toegang moet vereis. En wat van die toekoms, wanneer daar ‘n nuwe “ramp” verklaar word – is ons ook maar reg daarmee, omdat dit net “tydelik” is as ons van gesinne in die buiteland afgesny word en wanneer dieselfde regulasies dan weer vir maande of jare ons verhoed om normaal te lewe en te werk?