Vir ‘n besoek aan die Voortrekker monument

Hierdie monument is in die vorm van ʼn altaar, dit is ʼn simbool daarvan dat elkeen van ons, soos die Voortrekkers gedoen het, ʼn lewe moet lei as heilige en God welgevallige offer aan Hom, dit wil sê ʼn offer wat Hom behaag, dit is julle redelike godsdiens, lees ons in Romeine 12.


Maar Psalm 53 leer ons daar is niemand wat goed doen nie, ja, nie een nie. Om ʼn God welgevallige offer te wees, het alleen die volmaakte Here Jesus Christus vermag. Net as ons vertroue in Jesus alleen rus, word sy welgevallige offer vir ons rekening geneem. Dan sien God die Vader, Christus se geregtigheid, en offer, in ons plek, en woon die Heilige Gees in ons harte, om hoe langer, hoe meer in dankbaarheid vir Hom te leef – sien Hebreërs 10.


Voor die Slag van Bloedrivier, het die Voortrekkers ʼn Gelofte aan die Here gedoen, dat as dit sy wil is om ons volk steeds te gebruik om die Evangelie te laat vooruitgaan op hierdie kontinent, en Hy ons daarom deur die doodsgevaar van daardie veldslag sal red, ons ʼn Huis sal stig tot die gedagtenis van sy groot Naam, waar dit Hom behaag.


Selfs in 1838, die jaar van die Gelofte, kon mens nie ʼn huis tot die gedagtenis van die Here stig deur dit met die hande uit klei, klip en strooi te bou nie. Nee, om ʼn huis te stig, is veel moeiliker. Josua verklaar “ek en my huis, ons sal die HERE dien” (Jos 24:15). Die Voortrekkers het hulself opnuut gewy aan die Here, om ʼn volk te stig, wat tot sy eer sal lewe, om Hom te dien, daarom ook so gou doenlik ʼn kerkgebou opgerig waar hulle Hom in die erediens op stigtelike wyse saam kon aanbid, en geslag vir geslag die volk oproep om ons vertroue in Christus te plaas, Hom in dankbaarheid te dien, en ons te herinner aan sy grootse dade van redding uit die verlede, ook op 16 Desember by die Slag van Bloedrivier, en so saam die toekoms in met die oog op Hom, ons Verlosser alleen gerig.


By die inwyding van hierdie altaar, die Voortrekkermonument, is die skare herinner aan die verhaal uit die kerkgeskiedenis van Petrus wat van Rome gevlug het, maar aan wie die Here gevra het soos dit in Latyn na ons oorgedra is, Quo Vadis Petrus: waar gaan jy heen Petrus? Dit was die Here se wil dat Petrus moes terugkeer na Rome, om daar die Evangelie te verkondig. By die plek waar Petrus volgens die vertelling omgedraai het, en teruggekeer het na Rome, het daar later die Quo Vadis kerkgebou verrys, om aan hierdie verhaal te herinner.


Ook die Voortrekkermonument, so is verduidelik, wanneer ons oë, en die oë van ons nageslagte daarop val, moet ons geslag vir geslag, ook julle vandag, ʼn vraag daarop lees. ʼn Sieldeursoekende vraag. Boere-Afrikaner Volk, Quo Vadis: waar gaan jy heen? Die Voortrekkermonument is ons Quo Vadis gebou. As ons wegdwaal van die Voortrekkergees en -gedagte, as ons die Voortrekkers wat ons met die mond huldig, met die daad verloën, deur vêr te dwaal van ons God en sy gebod, ons vertroue in onsself plaas, en nie in die enigste Middelaar tussen God en mens, Jesus Christus, nie. Dan, terwyl ons oog soos vandag hierdie monument sien: Staan dan stil en draai terug, terug na ons God.


Aan die voet van hierdie monument is ʼn bronsbeeld van ʼn Voortrekkervrou en twee Voortrekkerkinders. Nie alleen herinner dit ons aan die hoogste offer wat veral vroue en kinders in Blaauwkrans, Moordspruit en Weenen moes bring, wat die direkte aanleiding was tot die latere Slag van Bloedrivier nie, maar van die noodsaaklike bousteen van elke volk, die gesinslewe.


Daarvan vertel ook die laer van kakebeenwaens óm die monument vir ons. Daardie waens waarmee die Voortrekkers die wildernis in is, wat in sy wakis, die grootste skat van elke Voortrekkerfamilie bevat het, die Bybel, waar rondom die familie elke oggend en elke aand Boekevat gehou het, die Woord van God as gesin gelees, en deurdink het, en God in hul gebede aangeroep het, ook in die lofsang van berymde Psalms daarnaas, waarmee die eenvoudige kakebeenwaens omvorm is tot groter prag as die rykste paleise en katedrale van Europa. Wanneer hierdie waens laer trek, wanneer die volk in gesinsverband mekaar die hand gee, en saamstaan, nie in eie mag nie, maar in ons gemeenskaplike belydenis van Christus, die Seun van die lewende God, dan is ons ʼn Volkskerk, ʼn Christelike volk wat die Here dien, soos ons by Bloedrivier belowe het, en dan kan selfs die poorte van die doderyk ons nie oorweldig nie (Mat 16:16-18).


Binne hierdie Voortrekkermonument, is op die laagste vloer, die Senotaaf, ʼn leë graf, as huldeblyk aan die Voortrekkers wat gesterf het, hul lewe gegee het vir die vooruitgang van die Evangelie ook in ons land, wat met die daad getuig het “Ons vir jou Suid-Afrika”, soos daar op die Senotaaf staan. En wanneer op 16 Desember elke jaar, om 12 uur, die son deur die monument-koepel skyn, en die woorde op die Senotaaf verlig, vertel dit ons daarvan dat God Drie-enig, sy kinders in Christus tot Hom aanneem, en dat die Drie-enige God spreek deur die soenoffer van die Seun vir sondaars soos ons, ook hier in Suid-Afrika: “Ons, die Drie Persone in die Drie-Eenheid, Een in Wese, vir jou Suid-Afrika”.


Maar julle wat vandag hier by die monument is, let op soos daar ook by sy inwyding verkondig is, dat hierdie monument wat vir jou leer van die Here se grootse dade in die verlede, as getuie staan. ʼn Getuie tot seën soos vanaf die Berg Gerísim in Deuteronomium 11:29, as julle luister na die gebooie van die Here julle God in sy Woord in afhanklikheid van Christus. Maar ook ʼn getuie tot vloek soos vanaf die Berg Ebal in dieselfde vers, as julle afwyk van die weg wat die Here julle in sy Woord beveel, deur Christus se offer te verwerp, te lewe na eie wil, in sonde verhard en gevange geneem.


Ondersoek julleself, en as julle die weg van dwaling bespeur, dink weer wat hier by die inwyding van die monument geleer is: Staan dan stil, en draai terug: Terug na u volk; Terug na die heiligheid en onskendbaarheid van die gesinslewe; Terug na u Christelike wandel; Terug na u Christelike geloof; Terug na u kerk; Terug na u God!