Hoe weet jy ‘n politikus is ernstig oor korrupsie?

Een ding waaroor almal in Suid-Afrika saamstem is dat korrupsie ʼn groot probleem is. Selfs die regerende party stem hieroor saam. Korrupsie mors geld, beïnvloed dienslewering, vernietig werksgeleenthede en ontmoedig beleggings. Alhoewel daar eensgesindheid is oor die probleem, is daar egter min konsensus oor ‘n oplossing.

Volgens die Wêreldbank kan korrupsie aangespreek word deur 1) beter en meer oop prosesse 2) professionele aanspreeklikheidsstelsels en 3) die gebruik van die nuutste gevorderde tegnologie om data vas te lê, te ontleed en te deel ten einde korrupte gedrag te  voorkom, op te spoor en te ontmoedig.

Die eerste metode word in Suid Afrika geïmplementeer deur die vereiste van publieke deelname by die veranderinge aan wette en by-wette. Hierdie vereistes spreek korrupsie in ʼn beperkte mate aan, maar gebreke in wetgewing maak betekenisvolle deelname van die publiek dikwels onmoontlik. Inwoners in Kaapstad mag byvoorbeeld kommentaar lewer op beleidsveranderings wat deur amptenare voorgestel word, maar daar is geen proses waardeur inwoners veranderinge kan voorstel wat aan húl behoeftes voldoen nie. Verder mag inwoners op aansoeke kommentaar lewer soos byvoorbeeld vir ontwikkelings en dranklisensies, maar hulle word nie beskerm teen intimidasie deur aansoekers nie.

Die tweede metode word in Suid Afrika geïmplementeer deur van professionele persone soos rekenmeesters , prokureurs en onderwyser te vereis om by ʼn professionele liggaam  te registreer. As geregistreerde professionele persone nie by ʼn gedragskode hou nie, kan hulle gerapporteer en gederegistreer word. Alhoewel hierdie stelsel ʼn manier is om werk te skep vir mense in professionele liggame en om effektiewe nie-geregistreerde spelers uit die mark te hou, het dit weinig bygedra om korrupsie te bekamp. Die beste illustrasie is die betrokkenheid van ondernemings soos KPMG en McKinsey by ‘n staatskaping van epiese omvang, terwyl hulle gevul is met ‘n menigte geregistreerde professionele persone!

Danksy die beskikbaarheid van nuwe tegnologie word die derde metode toenemend ‘n aantreklike manier om korrupsie te bekamp. Deur staatsdienste te outomatiseer, kan korrupte amptenare uitgesluit word om hierdie dienste te lewer.

Van die meer voor die hand liggende dienste van plaaslike owerhede wat geoutomatiseer kan word is die volgende:

  • Voertuigregistrasie en -hernuwings
  • Hernuwing van bestuurslisensies.
  • Leerlinglisensietoetse
  • ‘n Selfoontoepassing wat foto’s van stukkende infrastruktuur kan neem en ʼn diensversoek aanteken.

Met die naderende plaaslike verkiesings sal politici beweer dat hulle korrupsie wil bekamp, maar hoe weet jy dat dit eg is? Vra hulle of hulle beplan om te outomatiseer. As hulle belowe om korrupte amptenare in die tronk te sit, maak hulle net ʼn leë belofte. As hulle egter belowe om dienste te outomatiseer, is daar ten minste ʼn realisties kans dat jy bevry kan word van die administratiewe teistering deur lang rye en vyandige amptenare. Die lig het reeds in Gauteng begin aanskakel. Sindisiwe Chikunga, die adjunkminister van Vervoer, het erken dat korrupsie een van die grootste uitdagings is om die agterstande uit te wis in die aansoeke en hernuwing van bestuurslisensies by bestuurslisensie-toetssentrums regoor die land. Daarom implementeer Gauteng nou ‘n nuwe  aanlynbesprekingstelsel vir bestuurslisensies.