God wil nie hê dat inentings geforseer word nie

Omtrent ‘n jaar terug was die algemene gevoel by mense dat niemand forseer mag word om ‘n entstof te kry nie. Miskien was die rede dat mense nie hulle vryheid van eie gesondheidkeuses wou verloor nie, m.a.w. mense het aangevoel dat regerings (en mense) nie segenskap oor ander persone se liggame mag hê nie.

Wat ook al die rede vir die teenkanting teen geforseerde inentings was, lyk dit tog of die gety nou gedraai het. Die algemene gevoel is nou (kom dit voor) dat mense geforseer mag word om ‘n entstof te kry en dat COVID-paspoorte wel ‘n aanvaarbare praktyk kan wees. Wat is die rede vir hierdie verandering? Mense wil blykbaar weer hulle vryhede van beweging (om te kan toer o.a.) en hulle vryheid van keuse (o.a. om nie ‘n masker te dra nie) terug kry. Dit gaan dus nie meer oor ander mense se eie gesondheidkeuses nie.

Hoekom is daar die skuif in opinie oor geforseerde inentings en COVID-paspoorte van ‘n jaar terug tot vandag toe? Hoekom word woorde gebruik soos “dis die regte ding om te doen”, “jy moet ook joune kry”? Die groot rede is dat mense nie werklik geglo het in die God-gegewe reg van elke indiwidu om self te besluit oor sy eie liggaam nie, en so “heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Ef. 4:14).

Die agtste gebod (“jy mag nie steel nie”) veronderstel dat mense privaatbesit kan hê, en dit sluit in hulle eie liggame. Elke persoon besit sy liggaam en moet oor sy eie liggaam ‘n besluit kan neem, o.a. of hy ‘n inenting (of selfs bloeddruk pille) wil kry of nie wil kry nie. Natuurlik moet sulke keuses in geloof (Rom. 14:23) en in verantwoording teenoor die Here gedoen word (1 Kor. 6:19).

Die volgende slagspreuk word maklik uitgeroep as dit by die regverdiging van aborsies kom: “My liggaam, my keuse”. Maar wanneer iemand werklik net oor sy eie besitting, sy liggaam, ‘n besluit wil neem dan geld hierdie slagspreuk skielik nie meer nie. Dan verander die slagspreuk na “Jou liggaam, nie jou keuse nie”.

Terloops, die slagspreuk “My liggaam, my keuse” kan nie gebruik word om aborsies (d.i. kindermoord) te regverdig nie omdat die baba nie die vrou se liggaam (en dus besitting) is nie. Die ouer is wel verantwoordelik vir die kind (Ef. 6:4).

Vir meer inligting: https://gereformeerd.org/onderwerpe/verpligte-inentings/