Die lappiesrepubliek van Suid-Afrika

Meeste mense beskou Suid-Afrika as vanselfsprekend. Dit het in die mis van die geskiedenis ontstaan en sal vir altyd bly voortbestaan, want daar is iets wat Suid-Afrikaners in gemeen het. Vra jy egter dieper in oor wat Suid-Afrikaners in gemeen het, is dit moeilik om veel meer as 15% BTW te vind.

Meeste mense stem saam dat Suid-Afrika groot probleme het, soos werkloosheid, armoede, ongelykheid, misdaad, korrupsie ensomeer. Politieke partye en burgerlike organisasies het allerhande oplossings vir dié probleme. Sommiges meen dat meer staatsbeheer en grondonteiening die probleme gaan oplos, terwyl ander voorstanders is van ‘n vrye mark en ‘n bekwame staat. Hewige debatte word gevoer oor watter oplossing die regte een sou wees.

Terwyl die hewige debatte woed, twyfel al hoe meer of daar ‘n oplossing vir Suid-Afrika is. Dis té groot, té divers, té verdeeld en sy probleme is té kompleks om op te los. Miskien moet ons iets kleiner, iets meer homogeen, iets meer verenig skep en oplossings uitwerk vir iets kleiner.

Verskeie organisasies is besig om kleiner oplossings te bevorder. Tot onlangs was hulle as lagwekkend afgeskryf, maar soos Suid-Afrika se verval in ‘n anargistiese ramapokkerstaat versnel, het hulle statuur begin styg. As hierdie organisasies suksesvol is kan die toekomstige Suid-Afrika eerder ‘n lappieskombers wees van klein state, in plaas van een nasionale staat met een regering. Moontlike komponente van so ‘n lappieskombers noem ek Somalië, Weskaapland en die Federasie van Orania.

Somalië gaan waarskynlik die grootste deel van die land beslaan. Dis gebiede waar daar geen sterk sentrale staat is nie en waar bendeleiers en stamhoofde die tamboer slaan in hulle plaaslike omgewing. Die lewe word gekenmerk deur armoede, anargie en geweld. Sommige van die gebiede is ryker, waar bv. iets soos ‘n myn of ‘n kragstasie ‘n ooreenkoms het met ‘n plaaslike leier.

Weskaapland beslaan min of meer uit die huidige Weskaap-provinsie, met dalk enkele ander gedeeltes. Dit word geregeer deur ‘n sterk sentrale en bekwame staat in Kaapstad. Dis is ‘n populêre bestemming vir nasionale en internasionale korporasies en professionele mense en het ‘n sterk ekonomie. Selfs oud-Suid-Afrikaners keer terug hierheen soos tirannie toeneem in plekke soos Australië en Europa. Die lewe word tot in die fynste besonderhede gereguleer. Boorgate, wapens, huisdiere, tuisonderwys, sonpanele ensovoorts moet geregistreer word.

Die Federasie van Orania het sy ontstaan in die konsentrasiepunte wat geïdentifiseer is deur die Solidariteitsbeweging. Hierdie is verspreide, klein en selfstandige gemeenskappe wat dieselfde kultuur en waardes deel en hulle verskaf bykans al die dienste soos elektrisiteit, water, kommunikasie, onderwys en medies. Hulle is versprei oor Somalië en selfs Weskaapland, en verskaf dienste nie slegs vir hulleself nie, maar ook aan vervalle gemeenskappe in hulle omgewing. Alhoewel die gemeenskappe selfstandig is, is daar ‘n los samewerking tussen die gemeenskappe. As die voortbestaan van een bedreig word, staan hulle saam om die bedreiging af te weer.

In hierdie nuwe lappiesbedeling sal die nasionale geldstelsel die roete van Zimbabwe gaan. Handel tussen die verskillende lappies sal moontlik gemaak word deur gedesentraliseerde kripto geldeenhede soos Bitcoin.
Die fondamente vir ‘n lappiesrepubliek is reeds in plek, en elke dag word stene bygevoeg. Elke bankrot munisipaliteit wat in duie stort voeg bý tot die grondgebied van Somalië. Elke gesin of besigheid wat semigreer na die Weskaap versterk die ekonomie van Weskaapland. Elke bankrot munisipaliteit wat oorgeneem word deur ‘n gemeenskap brei die federasie van Orania uit.