Hoe ontleed ware gelowiges ‘n saak? Hoe dink ons oor die kwessies van ons tyd? Hoe benader ons dit?
Dit is belangrik vir gelowiges om die geldigheid en meriete van ‘n saak deeglik te ondersoek. Dit is maklik (en gemaklik) om onder groepsdruk en wêreldse propaganda te swyg, maar dit is sekerlik nie die ware weg van die “nou poort” en die “smal pad” nie (Mat 7:13-14).
Wie het beheer oor ons liggame? Besit die regering ons? Wat kan werkgewers afdwing – wat is hul regte? En werknemers – wat is regmatige eise oor die liggaam en publieke gesondheid?
‘n Christelike wêreldbeskouing is fundamenteel anders as die populistiese gees van die tyd – dit verafgod nie wetenskap of tydelike landswette nie, maar stel dit as ondergeskik aan die heilige Skrif. Gelowiges gaan nie net saam met die stroom nie. Gelowiges kyk deur die bril van God se Woord na die wêreld en toets alles daaran (Deut 12:32, Hand 17:11). Die ware gelowige is deur die Woord van God wederbaar (1 Petrus 1:23). Hierdie Woord is kosbaar, volmaak, volkome, genoegsaam – begeerliker as fyn goud (Ps 19:11). Die Woord van God is voldoende en genoegsaam om ons wysheid te gee. Dit is werklik ‘n lamp vir ons voete en ‘n lig vir ons pad (Ps 119:105).
Wie bepaal wat is reg en verkeerd? Is dit die konsensus van die onchristelike meerderheid – is dit nie juis die wye pad wat na die verderf lei nie?
Die christelike gewete is sensitief vir die Waarheid – die regverdige haat leuentaal (Spr 13:5). Dit is belangrik vir gelowiges om met insig en onderskeiding na ‘n gevalle wêreld te kyk en om radikaal anders daarin te wandel. Die ware gelowige se gemoed word deur die Woord van God gestuur en begrens: “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom 12:2).
So ‘n gemoed versprei ook nie leuens nie. Dit verdraai nie die Skrif met valse aanhalings oor ‘n valse naaste liefde nie. “Valse lippe is vir die Here ‘n gruwel, maar Hy het ‘n welbehae in die wat getrou handel” (Spr 12:22).
Hier is betroubare bronne oor hoe om te dink oor geforseerde inentings en die rol van die regering en burgerlike owerheid (insluitend ‘n deeglike uitleg van Rom 13).
“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus“ 2 Tim 3:16-17