Geloofsbond-kerke behou hulle geboue

“GELOOFSBOND VAN HERVORMDE GEMEENTES (GHG) – HOF-OORWINNING Persverklaring 9 Maart 2022

Met groot dankbaarheid kan die GHG aankondig dat die regter uitspraak gelewer het in die regsgeding rakende eiendomme tussen die onafhanklike gemeentes (GHG gemeentes) en die NHKA. Dit was ons oortuiging dat ons ‘n veilige ruimte moes skep vir suiwer verkondiging van die Evangelie. Alle pogings tot versoening is van die hand gewys. Uiteindelik kan ons nou sonder hindernis en dreigende hofsake ons aandag en hulpmiddele skenk aan die toegewyde diens aan God Drie-Enig. Ons leef in dankbaarheid teenoor God. Dit is bykans tien jaar na die begin van die hofgeding. Ons is dankbaar teenoor almal wat ons in hierdie lang stryd gedra het in gebed, woord en daad.

Kortliks kan gestel word dat die saak in die guns van die GHG bereg is. Die verloop van die saak en die aard van die uitspraak het die soewereine eiendomsreg van gemeentes ten opsigte van hulle bates bevestig. Die regter het die saak verder “moot” (ongeldig) verklaar. Die term “moot” verwys na ‘n situasie waar daar ‘n saak voor die howe is wat van akademiese belang is en nie aan die reg ‘n verskil gaan maak nie. In hierdie geval is die steriele saak die interne verhoudings van die NHKA in terme van sy Grondwet en Kerkorde.

Reeds tydens die vorige uitspraak van die hof (26 Januarie 2022), is die soewereine reg van gemeentes bevestig: Die bewerings deur die NHKA in 2012 dat gemeentes onregmatig hulle eiendomme vervreem het, het gelei tot die aansoek vanuit drie gemeentes om ‘n hofbevel wat stel dat die gemeentes wel wettig opgetree het. Daarna het die NHKA ‘n magdom hofaansoeke gebring wat telkens in verskillende howe verhoor moes word. Al hierdie sake is eindelik gekonsolideer tot een saak met een geskeide geskilpunt wat in Januarie 2022 deur die hof bereg sou word. Tydens hierdie hofsitting het Advokaat Roelof du Plessis SC die punt van “privity of contract” opgeneem. Hierdie punt stel dat ‘n derde party geen inspraak het in ‘n kontrak tussen twee ander regspersone nie. Die NHKA het hierdie punt toegegee. Die regter het uitspraak gelewer en op daardie punt is die saak van 2012 in die GHG se guns bereg. Regter Janse van Nieuwenhuizen stel in paragraaf 24 van haar uitspraak: ”This issue was decided in favour of the plaintiffs when judgement was delivered on the privity of contract point.”

Die pad vorentoe is nou deur hierdie nuutste uitspraak bepaal. Die saak voor die howe is nie ‘n geskil tussen twee partye nie. Gemeentes is regspersone in die volle sin van die woord en kan soos enige ander regspersoon binne die reg en handel optree. Die interne situasie in die NHKA is ‘n saak van akademiese belang. Die saak in sy huidige vorm het geen bestaansreg binne die howe nie. Die NHKA moet nou besluit of hulle wil appelleer, ‘n besluit wat gekniehalter word deur hulle eie erkennings ten opsigte van gemeentes as regspersone.

Die GHG bestuur wil in die besonder Advokaat Roelof du Plessis SC en sy gade Advokaat Renette du Plessis bedank wat uit geloofsoortuiging met toewyding oor tien jaar gewerk het om hierdie uitspraak moontlik te maak. Met dieselfde dankbaarheid dink ons aan al die gemeentes en individue wat finansieel ruim bygedra het tot die koste verbonde aan die regstryd. Tot tyd en wyl die NHKA hom neerlê by die uitspraak is die saak is nog lank nie verby nie, en word alle bystand en bydraes deur gemeentes en individue opreg waardeer.

Mag die liewe Heer tog sy Hand van genade oor ons hou en ons as bruikbare instrument in sy Koninkryk bevind.

GHG Bestuur.

Namens bestuur: Dr J Otto

082 767 7891″

https://www.geloofsbond.org.za/