Bronne vir Huisgodsdiens en Bybelstudie

Vir mense met min tyd is kwaliteit altyd beter as kwantiteit. Dus volg hier bybelvertalings, kanttekeninge en ook een breedvoerige kommentaar as bronne vir Bybelstudie. Volledige skakels heel onder.

1. Bybels

Engelse Bybel: Authorized (King James) Version

As ek ʼn Goedgekeurde (Koning Jakobus) Weergawe van die Bybel in Engels koop (elders as in die gespesialiseerde handel vir versamelaars van antieke boeke) is dit nie die 1611 eerste uitgawe nie, maar die Oxford-hersiening van 1769, wat nie verwar moet word met die 1982 vertaling bekend as die Nuwe Koning Jakobus Weergawe (NKJV) nie, wat ʼn nuwe vertaling eerder as ʼn hersiening is.

Nederlandse Bybel: Statevertaling

So ook, as ek ʼn Statevertaling van die Bybel in Nederlands aanskaf by ʼn hedendaagse boekwinkel is dit nie die 1637 eerste uitgawe nie, of die 1657 Ravesteyn-hersiening nie, maar een van drie latere hersienings wat op die Ravesteyn-uitgawe gebaseer is, naamlik die algemeen gebruikte 1888 Jongbloed-hersiening, of die skaarser 1977 Tukker-hersiening, of veral die 2004 Gereformeerde Bybelstigting-hersiening, wat deur meeste Statevertaling-gebruikers ondersteun word. Ook hierdie hersienings moet nie verwar word met die Hersiene Statevertaling van 2010 nie, wat nader aan ʼn nuwe vertaling as ʼn hersiening is.

Afrikaanse Bybel: 1933/53

Die Statevertaling is daarom soortgelyk in aard as die Ou Afrikaanse Vertaling wat vandag (behalwe op die tweedehandse mark) alleen beskikbaar is in die vorm van die hersiening in 1953, eerder as die oorspronklike uitgawe van 1933.

2. Bybelstudie

Vir Bybelstudie-doeleindes is die Statevertaling se kanttekeninge in die 1637/2004 uitgawe (uitgegee deur die Gereformeerde Bybelstigting), sowel as die kanttekeninge van die voorganger tot die Goedgekeurde (Koning Jakobus) Weergawe, die Engelse Geneefse Bybel van 1560 (soos tans uitgegee deur Hendrickson), en die breedvoerige Matthew Henry Kommentaar op die hele Bybel (ook deur Hendrickson uitgegee in een volume) van onskatbare belang. (Daar is tans ‘n vertaalprojek wat goed vorder met die Statebybel se verklarende kanttekeninge in Afrikaans).

Daarby is die uitgebreide kanttekeninge by die Statevertaling gegee in De Banier se Bybel met Uitleg, en soortgelyk uitgebreide kanttekeninge by die Koning Jakobus Weergawe in Reformasie Erfenis Boeke (Reformation Hertitage Books) se Koning Jakobus Weergawe Studiebybel, noodsaaklik.

Uitgebreide kanttekeninge by die Ou Afrikaanse Vertaling bestaan alleen in die tweedehandse mark, maar is gelukkig redelik maklik daarop te vinde, naamlik die Bybel met Verklarende Aantekeninge (gewoonlik in die drie volumes van die eerste druk, of die skaarser tweede druk in twee volumes).

Hierdie, vir Afrikaanstaliges, maklik toeganklike beste vertalings (vier vertalings in drie tale), bondige kanttekeninge (twee stelle in twee tale), uitgebreide kanttekeninge (drie stelle in drie tale) en een Engelse breedvoerige kommentaar, sal meeste beskikbare Bybelstudie-tyd inneem, en alhoewel dit in teorie goed is om soveel moontlik vertalings en verklarings te bestudeer, is insluiting van omstrede en minderwaardige moderne andere vertalings onprakties en onnodig, en selfs verwarrend.

1933/53 Bybel met Verklarende Aantekeninge.
Kanttekeningenbijbel schooleditie
Bijbel met uitleg – uitgebreide kanttekeninge.
The Geneva Bible
Matthew Henry’s Commentary on the Whole Bible.
The Reformation Heritage KJV Study Bible.