Die Herlewing Van Die Strafkolonie – Australië Se Noodmaatreëls Eindig 17 April Maar Een Belangrike Reël Eindig Nie

Greg Hunt, die Minister van Gesondheid en Bejaarde sorg, het op 25 Maart 2022 aangekondig dat Australië se noodmaatreëls nie hernu sal word nie. Tot die skok van sekere landsburgers is daar egter een reël wat sovêr lyk asof dit permanent gaan bly.

Greg Hunt se persverklaring stel dit duidelik dat diegene wat nie die eksperimentele COVID inenting ontvang het nie, nie die land sal kan verlaat nie. Dit geld vir alle landsburgers én permanente inwoners (pemanente VISA houers 189 en 190).

Dieselfde reëls word verder uitgeklaar en bevestig op ander webblaaie van die Australiaanse Departement van Gesondheid. Landsburgers en permanente inwoners mag die land binnekom op die voorwaarde dat hul inentingsstatus verklaar en/of bewys word, maar mag nie die land verlaat sonder bewys van ‘n COVID inenting of vrywaring nie. Vrywarings is egter baie raar.

Die reël is sinneloos aangesien dit reeds bewys is dat die eksperimentele inentings nie infeksie of verspreiding effektief voorkom nie. Die definisie van “ten volle ingeënt” kan ook baie gou verander word om ‘n verdere 3 – 6 versterkingsspuite in te sluit (boosters). Dit lyk sovêr asof Australië, Kanada en die VAE die enigste lande is wat hul eie burgers so verbied om uit die land te gaan. Senator Rennick het Australië se Hoof Mediese Beampte (Paul Kelly) gevra wat die rede vir hierdie beperking is. Kelly se verduideliking was dat dit deel uitmaak van voorsienings onder die Bio-sekuriteitswet en dat Australië aan die WGO se Internasionale Gesondsheidsverpligtinge moet voldoen.

Dit maak nie veel sin nie, aangesien die regulasies reeds in 2007 en 2015 in Australiaanse wetgewing vervat is. Baie reisigers en immigrante kon die land binnekom en verlaat sonder enige inentingsrekords. En hoekom lyk dit of burgers die land kan binnekom met net ‘n verklaring van hul inentingsstatus as ander lande ook onder dieselfde reëls val? Australië lyk nou meer soos “Hotel Kalifornië” – jy kan enige tyd inboek, maar jy kan nooit weer die plek verlaat nie.