G-mail merk konserwatiewe politiese e-posse as gemorspos

‘n Studie deur North-Carolina State University het bevind dat google se gmail meer as twee-derdes van die e-posse vanaf konserwatiewe politici na die SPAM lêer gestuur het.

Verskaffers van e-pos dienste gebruik algoritmes om gemorspos of “spam” te probeer filtreer – Spam Filtering Algorithms (SFA’s). Per definisie is ‘n algoritme basies ‘n volgorde van instruksies om ‘n probleem op te los, of om by ‘n antwoord uit te kom. Dit is basies soos ‘n resep met instruksies vir wat jy graag wil bak. Daar is dus moontlik die wanindruk dat ‘n algoritme neutraal is – maar, dit is afhanklik van insette en stappe om by die resultaat uit te kom. Die stappe en aanvaarbare insette kan so gestipuleer word om ‘n sekere uitkoms te bevorder.

Dus het die studie bevind dat die verskillende verskaffers van e-pos dienste se algoritmes ook verskillende SPAM resultate het. Outlook en Yahoo het minder vooroordeel getoon, maar beide se algoritmes was effens meer regsgesind. GMail het egter net 8.2% van linkse e-posse as SPAM gesien terwyl dit 67.2% van regse e-posse na die SPAM lêer gestuur het.

Natuurlik het sulke algoritmes ‘n groot invloed op die politieke landskap tydens ‘n verkiesing. Die publieke persepsie word beheer en gedryf in die rigting van ‘n voorafbepaalde uitkoms – die uitkoms wat die algoritme wil bepaal. Dink ook hoe dit gebruik word in tye van dwang en propaganda – soos in ‘n oorlog, of wanneer jy uit elke hoek oorweldig word op sosiale media met advertensies oor inentings of blatante morele verval. Dit skep ‘n storielyn en druk die samelewing dus ook in ‘n rigting, óf skep die valse persepsie van wat eintlik die waarheid is – volgens sekere algoritmes is almal links, maar soms is daar eintlik ‘n regsdenkende meerderheid buite die digitale skadu’s. Die algoritme raak dan meer soos ‘n uitdrukking van die zeitgeist – die gees van die tyd, “die loop van hierdie wêreld” (Ef 2:2).

Google en gmail het duidelik meer tyd vir linkse liberalisme. Na twee jaar van ekstreme sensorskap deur “Big-Tech” is dit eintlik geen verassing nie. Die studie bevestig eintlik net wat ons reeds geweet het. Dit lyk of gmail se algoritme eerder die ware SPAM is.