Oliver Anthony – die uitroep van middel Amerika

42 Miljoen mense het geluister – in net twee weke. Wat is die groot trekpleister? Dit wil voorkom asof Oliver Anthony uit die bloute kom, maar daar is ‘n konteks wat dit alles voorafgeloop het. Dit is soos die destydse Eerste Minister van Engeland, Disraeli, wat glo opgestaan het en op die ingewing van die oomblik ‘n briljante toespraak uit die vuis in die parlement gelewer het. Dieselfde aand het ‘n vriendin hom vertel dat sy toespraak die hele dag op haar gemoed was. “Mevrou”, het Disraeli bely, “daardie onvoorbereide toepsraak was op my gemoed al vir 20 jaar!”

Dit wil voorkom asof Anthony soortgelyk opgetree het – dit was swaar op sy gemoed en te oordeel uit die reaksie was dit ook swaar op die gemoed van gemeenskappe reg oor die wêreld. Oliver Anthony is nie ‘n Hollywood “ster” nie – hy gebruik sy slimfoon en staan in die veld om sy liedjie op te neem. Hy wys ‘n $8Miljoen musiek kontrak van die hand. Wat word gesing en wat word beskryf?

Oliver Anthony kan gekritiseer word oor taalgebruik; maar soos Francis Schaeffer destyds beskryf het is kunstenaars baie keer meer sensitief – hulle het die eerste aanvoeling en kan dit goed verwoord, skilder of uitbeeld. Dit wat swaar op almal se gemoed is, wat lank lê en borrel, wat die “woke” radar van politiese korrekte hoofstroom media wil toesmeer – dít het Oliver Anthony in sy lied geskilder.

Daarby lig Anthony vir ons die sluier van ‘n sekere bevolkingsgroep in die VSA: wit, arm en anders as die marxistiese narratief – onderdruk. Sy lied is die uitroep van middel Amerika. Nie net dit nie, daar is reaksie van die werkersklas reg oor die wêreld wat aanklank by Anthony se protes vind. Hy sing van totalitêre beheer – van mense wat moeg is vir ooglopende ongeregtigheid wat prakties aangespreek moet word. Die blik wat Oliver Anthony ons gee is ook iets wat juis in ‘n groot mate die realiteit van die christelike “boere” Afrikaner beskryf. Orals en op elke gebied moet alles net prysgegee word – tot in die kerk.

Dit wil voorkom asof mense, regerings, maatskappye en soms selfs kerke in gesagsposisies soos Rehábeam in 1 Konings 12 optree. Die swaar juk word net nog swaarder gemaak. Onregmatige laste word afgedwing. Gesag word misbruik. Die mense kan net soveel vat. Die goeie raad van die oudstes is deur Rehábeam “in die wind geslaan” (v8) deur eerder na die jongmanne se harde antwoord te luister:

“My pinkie is dikker as my vader se lendene…..Het my vader julle juk swaar gemaak — ék sal by julle juk nog byvoeg; het my vader julle met die sweep getugtig — ék sal julle met gésels tugtig.” (v 10;14)

1 Konings 12

Die volk het Rehábeam eenvoudig verwerp (v 16). Toe Rehábeam sy hoof oor die dwangarbeid later stuur, by name Adóram; het die hele Israel hom gestenig. (v18)

Ongelukkig is dit so dat die hoofstroom christelike kanale, beroemde predikers en evangeliese elites juis hier besig is om gruwelik te vaal. Gewone gelowiges vlug uit liberale stede en state in die VSA, terwyl beroemde predikers neerkyk op die platteland – inteendeel, alles wat kultureel uniek, wit, manlik en gesinsgeoriënteerd is word dikwels juis as liefdeloos en selfs onchristelik deur die populistiese predikers uitgebeeld. Dit is nie net die regering en groot maatskappye wat met “regstellende” aksie en “woke” druk dit moeilik maak nie, die “kerk” neem dikwels die voortou. As illustrasie, let op hoe Christianity Today vir Oliver Anthony maklik aanval terwyl dit die goddelose Taylor Swift prys. Anthony sing dus juis dat die gewone mense nou genoeg gehad het. Hy sing teen die stelsel in sy geheel, links en regs, ja ook die kamstige konserwatiewes.

Anthony het onlangs, op ‘n Sondag, sy opvoering met Psalm 37 by ‘n plaaslike boeremark in North Carolina ge-open. Mag Anthony ook ernstig ag slaan op die woorde van Hebreërs 10:25, sodat hy kan seker maak dat hy die ware evangelie glo en dan saam met ware gelowiges eerder Psalms by die byeenkoms van gelowiges kan sing.

Laat staan die toorn en verlaat die grimmigheid; wees nie toornig nie: dit is net om kwaad te stig. Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die Here verwag, hulle sal die aarde besit. En nog ‘n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie; ja, jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie. Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede. Die goddelose bedink listige planne teen die regverdige en kners met sy tande teen hom. Die Here lag oor hom, want Hy sien dat sy dag kom. Die goddelose het die swaard getrek en hulle boog gespan om die ellendige en behoeftige te laat val, om dié te slag wat opreg is van weg. Hulle swaard sal in hul hart gaan, en hulle boë sal verbreek word. ‘n Klein bietjie is vir die regverdige beter as die rykdom van baie goddelose; want die arms van die goddelose sal verbreek word, maar die Here ondersteun die regverdiges. Die Here ken die dae van die opregtes, en hulle erfdeel sal tot in ewigheid bly. Hulle sal nie beskaamd staan in die slegte tyd nie, en in dae van hongersnood sal hulle versadig word. Maar die goddelose sal omkom en die vyande van die Here soos die prag van die weivelde; hulle verdwyn soos rook, hulle verdwyn. (Psalm 37:8-20) “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.” (Rom 12:19)

Psalm 37; Rom 12.