1 Joh. 5:7-8a: Skrif of Byvoeging?


Die oorspronklike teks van die Bybel het nie uit die hemel na ons toe geval nie. Daar is verskillende manuskripte waaruit die teks van die Nuwe Testament saamgestel is. Vandag weet ons van meer as 5000 sulke Griekse manuskripte. Hierdie verskillende manuskripte het ontstaan deur skrywers in die vroeë kerk en monnike in die Middeleeue wat die teks oorgeskryf het sodat dit behoue bly.

Ons het natuurlik nie meer `n oorspronklike brief bv. van Paulus aan die Romeine nie. Dit beteken nie dat ons nie meer die Skrif het nie en ook nie kan vertrou dat dit wat ons lees werklik die Woord van God is nie. Christus bewaar sy kerk en sy Gees lei ons in alle waarheid (Joh. 16:13). Hy het ook deur die eeue die ware Woord van God laat behoue bly. Latyn was die amptelike taal van die Rooms Katolieke Kerk en daarom het die kennis van Grieks en Griekse manuskripte oor honderde jare verdof. Na die opbloei van kennis in die Renaissance-periode, was daar weer belangstelling in Grieks en die oorspronklike teks van die Bybel. In die tyd van die Reformasie het o.a. Desiderius Erasmus die groot werk gedoen om soveel as moontlik van hierdie manuskripte wat tot sy beskikking was, te versamel. Hy het toe die volledige Griekse Nuwe Testament laat uitgee. Hierdie en ander Griekse Nuwe Testament uitgawes was die basis van vertalings soos die KJV en die Statenbijbel (ook 1933 Afrikaanse vertaling).


Hierdie teks is egter nie die enigste teks nie. Daar bestaan ouer manuskripte wat anders lyk as die van hierdie teks. Baie geleerdes het na die Reformasie gemeen dat ons die ouer manuskripte moet gebruik om te bepaal wat in die Bybel hoort. Ons kan die manuskripte van die Bybel in twee groepe deel:

  • Meerderheidstekste. Hierdie tekste is die meeste met die meeste ooreenstemming. Die Textus Receptus, Oorgelewerde Teks, (KJV en OAV se teks) is hieruit saamgestel.
  • Minderheidstekste. Hierdie tekste is wel minder, maar dit is ouer as die meerderheidstekste. Die ESV en 1983-vertaling (ook BDV) gebruik hierdie tekste. Dit het wel meer verskille onder mekaar.

Een voorbeeld van `n verskil tussen hierdie groepe is 1 Joh. 5:7-8 se woorde “in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een en daar is drie wat getuig op die aarde.” Sekere vertalings bevat nie hierdie woorde nie. Moet dit dan wel in die Bybel wees of nie?


Argumente teen 1 Joh. 5:7-8 in die Bybel:

  • Dit kom net in vier Griekse manuskripte voor en al vier dateer na die 900’s. Dit is dus waarskynlik later bygeskryf.
  • In van die manuskripte is dit in die kantlyn geskryf, wat wys dit is bedoel as kommentaar op vers 8.
  • Slegs ou Latynse manuskripte bevat hierdie woorde
  • Dit is waarskynlik van die Latyn af oorvertaal na Grieks toe omdat die afwesigheid van lidwoorde in die Latyn ook in 1 Joh. 5:7 se Grieks van sommige manuskripte na vore kom.
  • Die woorde word nie deur Griekse skrywers in die vroeë kerk aangehaal nie
  • Dit versteur Johannes se gedagtevloei


Argumente vir 1 Joh. 5:7-8 in die Bybel:

Eksterne bewyse:

  • In n Griekse osomming van die Skrif uit 1 Johannes haal (waarskynlik) Athanasius (4e eeu),n Griekse skrywer, duidelik die woorde “en hierdie drie is een” aan as hy sê: “Johannes sê”.
  • Latynse skrywers Cyprianus (3e eeu), Idatius Clarus (4e eeu), Priscillia (ketter,4e eeu) en Eucherius (5e eeu) haal hierdie verse aan as Johannes se woorde.
  • Hiëronimus (4e eeu, vertaler van Latynse Vulgaat) sê in sy voorwoord van die vertaling dat ontroue vertalers hierdie woorde uitgelaat het.
  • Die sinode van Kartago in 484 haal hierdie vers spesifiek aan teen Ariane.
  • Die NGB en die Westminster Belydenis gebruik hierdie vers as bewysteks vir die Drie-eenheid. Die Hervormers was nie oningelig oor hierdie sake nie. Hulle het waarskynlik meer inligting oor die
    manuskripte gehad as wat ons het.

Interne bewyse:

  • Vers 9 maak nie sin sonder vers 7 se goddelike getuienis nie.
  • Die sprong van vers 6 na 8, maak ook nie sin nie. Dit lyk dan na n onnodige en sinnelose herhaling direk na mekaar.
  • Grammatika: In die Grieks is die woorde “drie wat getuig” drie manlike woorde. Dit moet pas by dit waarna dit wys. Vader, Woord en Gees is oorheersend manlik, terwyl water, bloed en Gees al drie onsydige woorde is. As dit eerstens na die “Vader, Woord en Gees” wys, pas die “geslag” van die woorde. As dit eerstens na net vers 8 se “water, bloed en Gees” wys, pas dit nie. Onsydige voorwerpe kry nie ‘n manlike. lidwoord, artikel of telwoord nie. Dit sou swak grammatika van Johannes gewees het.
  • Vers 8 se einde “en die drie is eenstemmig” kan ons ook vertaal as: “en die drie is eenstemmig met die een”. Sonder vers 7 se “en hierdie drie is een”, kan `n mens vra: met watter een stem die aardse getuies saam?
  • Vers 7 pas in by Johannes se verweer teen die dwaalleer dat Jesus nie ware God en mens is nie.


Waarom is dit dan weggelaat in sommige manuskripte?

  • Omdat vers 7 en 8 baie dieselfde woorde bevat (daar is drie wat getuig), kon `n vroeë oorskrywer se oog gespring het met die oorskryf-proses (dit gebeur met ons ook) en vers 7 oorgeslaan het. Hy sou dit dalk nooit agter gekom het nie. Ander manuskripte is dan van hom af oorgeskryf.
  • Die dwaalleer van Sabellius in die 2e en 3e eeu sou sommige gelowiges laat twyfel het aan die egtheid van vers 7. Hy het geleer dat die Drie-eenheid se Persone identies is, so dat dit eintlik ook die Vader is wat aan die kruis gely het. Gelowiges sou in hierdie stryd moontlik manuskripte sonder vers 7 en 8 verkies het. Hierdie kan ook manuskripte met vers 7 in die kantlyn verklaar.

Hierdie is glad nie bedoel om twyfel te saai in die egtheid van die Here se Woord wat ons het nie. Ons moet juis hieroor ingelig wees sodat ons met meer sekerheid kan werk met die Skrif. In die mond van twee of drie getuies staan `n saak vas. Dit is ook wat Johannes onderstreep in hierdie deel rondom vers 7. Ons het meer as 5000 getuies (manuskripte) vir inhoud van die Skrif. Die klein verskille (gewoonlik letters, voorsetsels of spelling wat verskil) tussen die getuies verander nie aan die kern of die boodskap nie. Ek dink ook nie hier by 1 Joh. 5 se verskil nie. Dit wat vers 6 en 8 sê impliseer ook wat vers 7 sê. In nederigheid dink ek 1 Joh. 5:7 hoort in die Bybel, maar selfs sonder hierdie vers, is dit wat Johannes hier sê steeds dieselfde.

Wiku van Rooyen

Gereformeerde Kerk Bet-El

gereformeerd.org