Hoe moet gelowiges films beoordeel?

Die Woord van die Here is waarlik ‘n lamp vir ons voet en ‘n lig vir ons pad (Psalm 119:105).

Dit is belangrik om Skriftuurlik te dink oor alle aspekte van die lewe – ook oor kuns, vermaak en selfs films. Alles in ons lewens, op elke gebied van die gelowige se lewe, moet die doel hê om God te verheerlik (1 Kor 10:31; 1 Pet 4:11). Ons moet God in alles verheerlik – maar die Here bepaal ook hoe ons Hom moet aanbid en verheerlik.

Die vraag is dus ook: is ons vry om God te aanbid net soos wat ons wil? Kan ons God aanbid op enige manier wat ons goed dink? Of, moet ons God volgens Sy Woord aanbid? Hierdie vrae geld ook vir hoe ons films moet beoordeel. “Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie “(Jes 8:20). Ons is nie vry om te maak soos ons wil of goed dink nie.

“Baie Christene se geloofslewe word geruïneer deur eiewillige godsdiens. Om dit te kan verstaan, moet ons goed begryp wat eiewillige godsdiens is.

Eiewillige godsdiens beteken volgens ons Kate­gismus dat ons God op ‘n ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel (Antwoord 96). Eiewillige godsdiens word by ons gevind wan­neer ons God dien soos óns wil en nie soos Hý wil nie.

Hoe erg God se toorn oor eiewillige godsdiens is, blyk duidelik uit die geskiedenis van Nadab en Abihu, die seuns van Aäron (Lev.10:1-5). In die tempeldiens wat hulle moes verrig, moes hulle vuur neem en reukwerk daarop blaas om so ‘n reukoffer aan die Here te bring. Maar in die neem van die vuur het hulle nie presies gehandel soos die Here beveel het nie. En daarom word daar gesê dat hulle vreemde vuur voor die aangesig van die Here gebring het. Hulle het hulle nie deur die Here laat voorsê hoe die vuur moet wees wat hulle moes neem nie maar hulle het hulle eie idees gevolg! Daarom was dit vreemde vuur. Hulle het God op ‘n ander wyse vereer as wat Hy in sy Woord beveel het. En so groot was die toorn van die Here oor hierdie eiewillige godsdiens dat daar vuur van sy aangesig af uitgegaan het wat Nadab en Abihu verteer het.”

(Sien volle artikel hier>)

Dit is noodsaaklik dat almal, veral ouers, deeglik en versigtig aan hierdie dinge moet dink. Hoe beoordeel ons films? ‘n Goeie bron, as riglyn, van hoe om films te beoordeel, is hier beskikbaar>

Daar is ook die verdere oorweging van sg. Christelike films en TV programme. Hier van toepassing is veral films waar die 2de gebod oortree word (die gelowige weet dat die wet ons nie red nie, maar die wet wys juis ons sondes en onvermoë uit, dryf ons dus na Christus se sondelose lewe en Sy eenmalige offer as Plaasvervanger; en die wet rig dan die gelowige se lewe in dankbaarheid). Hier geld films en programme soos The Chosen, die Jesus film en die Rooms Katolieke “The Passion of Christ” – wat glo ook ‘n opvolg film in 2024 wil uitbring. Hier is ‘n paar bronne wat ook kan help:

“…Eiewillige godsdiens is uiteindelik ’n godsdiens waarin daar vir Christus geen plek is nie, want by Christus vind ons presies die teendeel van wat ons vind by die wat hulle aan hierdie sonde skuldig maak. Christus het die gebooie van sy Vader tot in die fynste besonderhede onderhou. Self het Hy die verklaar dat dit sy spyse is om die wil te doen van sy Vader wat in die hemele is (Joh.4:34). En nou word Christus hier nie maar net as voor­beeld van getroue gehoorsaamheid aan die Vader aan ons voorgehou nie. Nee, deur die geloof moet ons aan Christus verbonde wees soos die ranke aan die wynstok sodat dieselfde Gees en derhalwe dieselfde gesindheid wat daar in Hom was, ook in ons kan wees. Dan sal dit inderdaad ons begeerte wees om God op geen ander wyse te vereer as wat Hy in sy Woord beveel nie.” (Sien volle artikel hier>)