Swaard of septer?

Wanneer daar na die soveelste insident van politieke magsmisbruik oor burgerlike ongehoorsaamheid gepraat word, word dikwels verwys na Romeine 13 waar daar staan:”Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is,…”. Slegs die blote verwysing na die teksgedeelte bring die gesprek vinnig tot ‘n einde. Sommiges is tevrede dat daar nou duidelikheid oor die saak is, maar ander voel gefrustreerd dat die antwoord nie werklik frustrasies aanspreek nie.

Toenemend word gewonder presies wie die “magte” is waarvan Rom. 13 praat. Die tradisionele siening is dat die magte verwys na die wettige regering. Met wettige regering word bedoel die strukture wat aangestel word volgens ‘n proses wat in die wet voorgeskryf word. Die mees algemene proses in gebruik is demokrasie, maar in die verlede was die monargie meer algemeen. Daar is egter ook ‘n siening waarvolgens die magte verwys na ‘n struktuur wat die monopolie op geweld het en in staat is om sy wil af te dwing. Hierdie strukture is dikwels die polisie, maar in sommige gebiede kan dit tradisionele leiers of bendes wees.

Om Bybelse terme te gebruik kan die wettige regering beskryf word as die een wat die septer het, terwyl die geweldsmonopolie beskryf kan word as die een wat die swaard dra.

Meestal is die een wat die septer het ook die een wat die swaard dra, want ‘n lojale en bekwame polisiemag en weermag kan die wil van die wettige regering afdwing. As die een wat die septer het egter korrup is, en toelaat dat die polisiemag en weermag in chaos verval, dan dra die een wat die septer het nie meer die swaard nie.

In so ‘n situasie kan die wettige regering nie meer oral in sy grondgebied sy wil afdwing nie. Wanneer dit die geval is sien jy die volgende hoofopskrifte in die media:”.Eskom has withdrawn services in Harare, Khayelitsha, with immediate effect after workers were asked to pay a protection fee of R20 000 by alleged gangsters.“. In hierdie situasie reik die een wat die septer het se swaard nie meer tot in Harare, Khayelitsha nie, maar die rampokkers dra die swaard daar, en kollekteer selfs belasting.

Tydens die grendelstaat het die verskillende sienings oor die magte van Rom. 13 sigbaar geword in kerke. Diegene wat geglo het dat ons gehoorsaam moet wees aan die wat die septer het, het getrou maksers gedra totdat die grendelstaat formeel opgehef is. Diegene wat glo dat ons gehoorsaam moet wees aan die wat die swaard dra het egter veel eerder tot die gevolgtrekking gekom dat die maskermandaat onsin is en dat die wettige regering nie in staat is om dit af te dwing nie, en het hulle maskers tuis gelos.

Die sigbare verskille oor Rom. 13 het spanning in kerke gebring, maar uit vrees vir onmin en skeuring is selde gepraat oor die saak. Met die formele opheffing van die grendelstaat het die sigbare verskille verdwyn en het almal ‘n sug van verligting geslaak. Die onsigbare verskille bly egter.

As daar in die verlede ‘n gesprek ontstaan het oor burgerlike ongehoorsaamheid is so ‘n gesprek dikwels vinnig kortgeknip deur bloot die teksgedeelte van Rom. 13 te noem. Soos ‘n towerspreuk het die woorde “Romeine 13” almal tot swye gebring.

Nadat die grendelstaat die verskille vir ‘n tyd lank sigbaar gemaak het, werk die Rom. 13 towerspreuk egter nie meer so lekker nie. Dis nie meer duidelik tot watter mate ons die lang arm van die gereg met die swaard moet gehoorsaam, as die arm kort geword het, en nie meer ryk tot in plekke soos Harare, Khayelitsha nie.

Ons leef in ‘n tyd waar die een wat die septer het se swaard al hoe minder werk. Waar die buurtwag binne minute arriveer en die polisie se telefoon net lui. Toenemend neem ander strukture die swaard op om lewens en eiendom te beskerm. Hierdie nuwe situasie vereis ‘n herbesinning oor die magte waaraan ons ons moet onderwerp. Die toenemend swaardlose draer van die CODESA septer of nuwe burgerlike strukture wat die swaard opneem sonder dat ‘n septer aan hulle oorhandig is?

*Die menings in hierdie skrywe is nie noodwendig Veritas Media se standpunt nie
**Vir ‘n Bybelse perspektief op die verstaan van burgerlike owerheid en ‘n goeie verklaring van Rom. 13:1-7 gaan kyk gerus by gereformeerd.org/onderwerpe/regering/