Christelike Embleme: Brandende Bos en Neerdalende Duif

Die meerderheid Westminster-Gereformeerde (Presbiteriaanse) Kerkverbande gebruik die Brandende Bos as embleem. Uitsonderlik onder Dordts-Gereformeerde Kerkverbande, gebruik ook die Christelike Gereformeerde Kerke in Nederland, en sy dogterverband in Kanada, die Vrye Gereformeerde Kerke van Noord-Amerika, dieselfde voorstelling. So ook die Afrikaanse Protestantse Kerk se uitgewery, Lig in Duisternis Uitgewers (maar daar sonder leuse).

Die oorsprong van die Brandende Bos as kerklike beeld lê onder die Franse Hugenote. Daar het dit verwys na die gelowige martelare op die brandstapels ingestel deur Rooms-Katolieke owerhede. Daarom weerspieël die Latynse leuse Ardens sed Virens, Brandend maar Florerend, dié gedagtegang beter. Soos die Christelike Kerk in die Nuwer Testament het die Kerk van die Reformasie reuse groei geken onder wrede vervolging. Vandag sien ons dieselfde in lande soos Noord-Korea en Sjina, en selfs Iran.

Met verloop van tyd, was daar onder Gereformeerdes ʼn vereenselwiging van die Brandende Bos van die brandstapels met die brandende doringbos van Exodus 3:2b: “… maar die doringbos word nie verteer nie”. Vandaar die gebruik as leuse van Nec tamen Consumebatur, d.i. Maar dit word nie Verteer nie. In hierdie hoofstuk verskyn Christus (“die Engel van die HERE”) self as vuur in ʼn doringbos, en in vers 14a lees ons: “En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS …”

Alhoewel ek nog geen omstredenheid hieroor teëgekom het nie, kan ek nie help om te wonder of die vereenselwiging van die kerklike embleem met die brandende doringbos van Exodus 3:2 wel te vêr gaan nie, en nie miskien selfs naby aan ʼn oortreding van die tweede gebod kom nie?


Brandende Bos voorbeelde met leuse onderskeidelik Ardens sed Virens en Nec tamen Consumebatur

ʼn Soortgelyke vraag kan seker gevra word van die Neerdalende Duif as versinnebeelding van die Heilige Gees, in sovêr dit algemeen as kerklike embleem gebruik word, soos onderaan die Hugenote Kruis, en ook by ons in die Afrikaanse Protestantse Kerk. Sien Matthéüs 3:16b: “… Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom”. Weereens iets wat na my beste wete meestal nie as omstrede beskou word nie.

Die Hugenote Kruis verskil alleen van die embleem van die ouer Franse Ridderlike Orde van die Heilige Gees, in dat by eersgenoemde die Neerdalende Duif onder aan die kruis hang, terwyl laasgenoemde die Neerdalende Duif op (of in die middel van) die kruis plaas. Die Franse Ridderlike Orde van die Heilige Gees was alleen vir Rooms-Katolieke. Daarby lyk dit of die vroegste behoue voorkoms van die Hugenote Kruis soos ons dit vandag ken, heel laat in Hugenote-geskiedenis te vinde is, en die beeld eers regtig onder Romantiese invloed van die 19de eeu werklik rugbaar en gebruik begin word het. Vandag vind mens dit veral onder Gereformeerdes in Frankryk, België en Quebec, maar ook elders waar Hugenote-afstammelinge hulself bevind. Soms word dit gesê dat in tye van besonder velle vervolging die Neerdalende Duif met ʼn traandruppel onder aan die Hugenote Kruis vervang is. Ook die Hugenote Kruis se Roomse erfenis blyk nie omstrede te wees nie.


Standaard Hugenote Kruis, embleem van die Franse Ridderlike Orde van die Heilige Gees, en Traandruppel-weergawe van die Hugenote Kruis

Moontlik is die manier om iets soos die Brandende Bos en die Neerdalende Duif te verstaan dat die simbool self, en Dit wat gesimboliseer word, in wese verskil, en boonop as simbole in God se Woord gegee word (soos ook die wyn en die brood by die Nagmaalviering). Oor die Rooms-Katolieke erfenis van die Hugenote Kruis kan daar miskien gesê word dat ook ander elemente in Gereformeerde kring aanvaar word wat voorheen en steeds in die Rooms-Katolieke Kerk in gebruik was en is. Dink maar aan die klassieke belydenisskrifte, soos onder andere die Twaalf Artikels.

Dalk moet mens wel oorweeg of daar oor die algemeen te groot gehegtheid aan embleme is? Het ʼn kerkverband ʼn embleem nodig? Word daar byvoorbeeld ook met die kruis as kerklike embleem soms te vêr gegaan: miskien in sommige kringe in bygelowigheid as ʼn soort gelukbringer selfs?
Bronne oor die Brandende Bos en Hugenote Kruis, insluitende sommige waar verwysings daarna of uitbeeldings daarvan voorkom:
https://reformationstudybible.com/about/the-symbol-of-the-burning-bush-in-church-history
https://www.presbyterianhistoryireland.com/history/the-burning-bush/
https://www.churchofscotland.org.uk/about-us/our-structure/church-emblem
https://www.presbyterianireland.org/Utility/About-Us/Historical-Information/Burning-Bush.aspx
https://www.huguenotfellowship.org/origin-of-the-huguenot-corss
https://cgk.nl/project/kerkelijk-zegel/
https://en.wikipedia.org/wiki/Huguenot_cross
https://huguenotsociety.org.za/afr/geskiedenis/
https://museeprotestant.org/en/notice/la-croix-huguenote/
https://nl.protestant.link/korte-geschiedenis-van-het-protestantisme-in-belgie/
https://erq.qc.ca/
https://frcna.org/