Jordan Peterson

Is Christelik en Konserwatief deesdae noodwendige sinonieme?

Die wêreld se konserwatief is nie dieselfde as ‘n Christelike konserwatief nie – onder die vaandel van konserwatief, in die wêreld, vind ons heelwat sienings wat nie Skrifgetrou is nie. Jordan Peterson is ‘n interessante stem onder baie mense wat hulself as konserwatief bestempel. Hy druk homself goed uit, en in baie gesprekke is sy stem duidelik, direk en logies – tragies soms selfs duideliker in sommige kwessies as die beleidende kerk.

Ten spyte van Peterson se grootliks nugtere stem is hy steeds nie ‘n gelowige nie. Dit het op ‘n stadium baie geklink of hy wel onder intense oortuiging gekom het – maar die begeerte was steeds dat Christus hom sou red. Hierdie “amper christen” ervarings van Peterson word goed uitgelig deur Kevin Swanson hier.

‘n Meer onlangse onderhoud van Peterson maak dit egter duidelik dat sy definisie van konserwatief en die van die Skrif egter nie ooreenstem nie. Op 30 Junie 2022 het hy ‘n onderhoud gevoer met Dave Rubin. Hier is die volle titel van die onderhoud: Gay Parenting: Promise and Pitfalls | Dave Rubin & Dr. Jordan B. Peterson. Lifesitenews.com bespreek hierdie onderhoud verder hier.

Dit is dus duidelik dat alles wat konserwatief in naam is, nie noodwendig ‘n christelike wêreldbeskouing handhaaf nie. Die ware christelike wêreldbeskouing begin by die genadige werking van God se Woord en Gees in die hart, wat geloof teweeg bring, sodat alles dan deur die raamwerk van God se Woord beoordeel word. As daar nie ‘n Christelike geloofsoortuiging is wat ‘n standpunt onderlê nie, dan is daar geen fondasie nie en die standpunt is dan maar vloeibaar.

“Laat niemand homself mislei nie: as iemand meen dat hy wys is onder julle in hierdie wêreld, laat hom dwaas word, sodat hy wys kan word; want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God; want daar is geskrywe: Hy wat wyse mense in hulle listigheid vang; en verder: Die Here ken die gedagtes van die wyse mense dat dit nietig is….” (1 Kor 18-20)