Nederlandse boere protesteer teen onregmatige omgewingswetgewing

Boere in Nederland is besig om saam te staan teen nuwe voorgestelde omgewingswetgewing. Verskeie stede, paaie, verspreidingspunte en lughawens word die afgelope paar weke met trekkers en plaasimplemente versper. Die kommer is dat die Nederlandse regering ook al hoe meer soos ‘n diktatorskap begin lyk – veral na die polisie op van die boere geskiet het.

Die nuwe wetgewing vereis dat boere hul uitlaatgasse en kunsmisverbruik met tussen 30%-70% sal moet verminder teen 2030. Gevolglik sal die aantal varke, hoenders en beeste ook met omtrent 30% verminder moet word. Dit beteken dat baie boere eenvoudig nie sal kan bly voortbestaan nie, maar die Nederlandse regering erken dit sonder om te blik of te bloos. Die doel met ‘n sperdatum van 2030 is natuurlik reg uit die WEF se 2030 agenda.

Alhoewel Nederland ‘n klein oppervlak beslaan, is dit die wêreld se tweede grootste uitvoerder van landbou produkte. Dit is ook een van die wêreld se grootste vleis uitvoerders en die heel grootste vleis uitvoerder in Europa. Dit skep duidelik ‘n verdere voedselkrisis ná hierdie boere reeds onder druk is met brandstof pryse en inflasie.