Groot terugslag vir die Woke Weste globalisme

Viktor Orban is vir die vierde keer verkies as eerste minister van Hongarye, met ‘n groot meerderheid. Die woke Weste is baie ongelukkig oor hierdie demokratiese oorwinning van Orban, en al wat linkse propaganda word teen Orban se bewind ingespan, sien ‘Victory for Hungary’s Orban means a headache for the EU‘.

Orban is deur die jare onder andere bekend daarvoor dat hy pro-christelike waardes is, nie toegee aan die LGBTQ+ radikale agenda, drukgroepe en propaganda nie, patrioties is, nie onbeheersde immigrasie toelaat nie, pro-gesin, en ander tradisionele waardes wat die anti-christelike globalistiese magte aanval en probeer vernietig.

Die ironie van die oorwinning is, soos ‘n Nederlandse kommentator en regsfilosoof dit stel: die woke Weste aanvaar net die demokratiese proses … as dit hul woke globalistiese anti-christelike agenda pas, en die probleem met Orban is dat hy nie in lyn met hul agenda wil masjeer nie.

Orban is lidmaat van die Hongaarse Gereformeerde Kerk, hoe ‘n opregte oortuigde gelowige hy is, weet ons nie, ook nie of hy net nog ‘n konserwatiewe politieke opportunis is wat bloot stemme wil wen nie, maar gelowiges moet bid vir hom persoonlik en sy regering, dat hul inderdaad van harte én in hul wetgewing en regering van Hongarye, die Here en sy Gesalfde waarlik sal dien, soos die Skrif ons leer in Ps. 2:10-12 en 1 Tim. 2:1,2. Mag die Here ook orals en in alle lande en volke weer ware opregte godsvresende leiers genadiglik gee wat waarlik ‘dienaars van God’ sal wees, nie net in hul persoonlike lewens nie, maar ook in hul wetgewing en regspraak vir hulle onderskeie lande en volke (Rom. 13:1-7).