Verdere verval van die Suidelike Baptiste-Konvensie

VSA: Die konvensie is al jare lank op ‘n pad van verval, maar die wiele begin nou al hoe vinniger rol. Baie gelowiges het weer hierdie jaar gebid en gehoop om ‘n konserwatiewe kandidaat as president te kon verkies. Tom Ascol en Voddie Baucham het na vore getree – Ascol as presidentskandidaat vir die Konvensie en Baucham as kandidaat vir die konferensie van pastore. Beide Ascol en Baucham is Gereformeerde Baptiste wat sterk uitspraak lewer teen die valse leringe van liberale teologie en kritiese rasteorie.

Die hartseer is dat die resultate nie eers naby was nie – Bart Barber het uiteindelik gewen met 60.7% van die stemme (Ascol 38.8%). Die vorige president het openlik plagiaat gepleeg en Bart Barber het dit ook verdedig. Barber het verder onlangs die totale afskaffing van aborsies in Louisiana teengestaan. Baucham het ook verloor. Alhoewel daar altyd hoop was vir genade en ‘n drastiese ingryping, is die resultate vir baie gelowiges, wat reeds die konvensie verlaat het, egter nie ‘n verassing nie.