Louisiana wetgewing om aborsie af te skaf misluk toe ‘kerklike’ komitee saam met pro-aborsioniste staan

In ‘n baie hartseer en onstellende draai van sake het die voorgestelde wetgewing misluk – onstellend juis ook omdat die etiese komitee van die grootste protestants-evangeliese denominasie in die VSA gehelp het om die wetgewing in die wiele te ry. Die Ethics and Religious Liberty Commission (ERLC) van die Southern Baptist Convention het die wetgewing teëgestaan.

Die Abolition of Abortion in Louisiana Act of 2022 was goed op dreef – dit was die eerste staat in Amerika waar ‘n Wet wat aborsie totaal en al afskaf deur die huis van verteenwoordigers (Louisiana House of Representatives) ingestem kon word. Maar toe draai al die sogenaamde “pro-life” organisasies téén die voorgestelde wetgewing deur druk op die wetgewers te plaas. Hier is hul verdraaide redevoering:

Die wet sou die moord op ongebore babas (aborsie) tereg sien vir wat dit is – moord. Die vrouens wat dus hul babas vermoor voor geboorte sou gevolglik aan dieselfde wet en straf onderhewig wees as vrouens wat hul kinders vermoor ná geboorte. Die “pro-life” organisasies het geargumenteer dat die vrouens wat hul eie babas vermoor ook self slagoffers is – want dit is baie swaar op hul gemoed ná hulle hul eie babas vermoor het. Dus moet die wet volgens hulle nie deurgaan nie – omdat dit hierdie vrouens wetlik sou vervolg.

Dit kom daarop neer dat hierdie “pro-life” groepe dus nie werklik aborsie sien as moord nie. Toe die tekkie die teer tref was die ontertekende “pro-life” groepe in dieselfde ideologiese kamp as Planned Parenthood. Só verwronge is hul redevoering dat dit nie in hul denke kom dat daar geen vroue slagoffers sal wees as daar geen aborsie is nie!

Die onsteltenis word vererger as ‘n mens in ag neem dat die Southern Baptist Convention onlangs ‘n resolusie ingestem het waar die denominasie bevestig dat aborsie wel moord is wat dieselfde straf onder die wet verdien. Maar die ERLC het hierdie resolusie openlik geïgnoreer!

Daar is egter lank reeds kommer van konserwatiewes binne en buite die denominasie oor die teologiese verval wat al hoe meer onder woke invloede swig – veral sekeres in leierskapsposisies en op komitees soos die ERLC. Baie gelowiges in die denominasie het reeds die konvensie verlaat of oorweeg dit ernstig.

Die volle berig oor die mislukte Louisiana wetgewing kan op Protestia gelees word.